Lees Johannes 19:23-24 en Matteus 27:33-36
23 Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef.
24 Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”
Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.
Matteus 27:33-36
33 Hulle kom toe by ‘n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek.
34 Daar het hulle Hom ‘n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.
35 Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot.
36 Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou.
Die klere van ‘n veroordeelde was destyds die buit van sy laksmanne. Jesus se vyf kledingstukke was waarskynlik sy mantel (‘n oorkleed teen koue), sy tuniek of kleed (chitoon vir daaglikse drag), ‘n beld, sandale, en ‘n tulband. Die kruiseling hang naak voor die wêreld, soos die sondaar naak voor God staan – Jesus dra die straf op Jerusalem en die wêreld se sonde (Eseg.23:28-30; Joh.1:29).
Dit is die einde van die weg wat Jesus self ingeslaan het toe Hy sy klere uitgetrek het om sy dissipels se voete te was, met net ‘n afdroogdoek/handdoek om (Joh.13:4) – aan die kruis egter sonder ‘n lendedoek – Hy het sy eie mense tot die uiterste toe liefgehad (13:1).
Die kleed was sonder soom, in een stuk geweef. Die vier soldate besluit om dit nie te skeur nie, maar daaroor te loot.
Die Evangelie skrywer sien daarin ‘n vervulling van die doel van God, soos die verdeling van sy klere in Ps.22:19 beskryf is. Die soldate vervul God se raadsplan vir die verlossing van die wêreld, met ‘n Koning wat sy volk se naaktheid dra.
Praktiese oefening:
· Neem ‘n stuk lap in jou hande. Skeur die materiaal en stel jou hele lewe bloot aan Jesus. Deel dalk iets met Hom wat jy nog nie vantevore het nie.

Gebed: Verse uit Psalm 22
2 My God, my God, waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
3 My God, ek roep bedags en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4 U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!
7 Maar ek is ‘n wurm, nie ‘n mens nie.
Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag.
8 Almal wat my sien, spot my,
hulle steek vir my tong uit
en knik met voldoening die kop en sê:
9 “Laat dit aan die Here oor!
Laat Hý hom red, laat Hý hom bevry
as Hy dan so baie van hom hou.”
10 U het my die eerste lewenslig laat sien,
my veilig laat rus aan die bors van my moeder.
11 Van my geboorte af is ek onder u sorg,
van die begin van my lewe af is U my God.
12 Moet tog nie so ver van my af weg bly nie,
want die nood is naby
en daar is niemand wat help nie.
15 Ek is soos uitgestorte water,
al my bene het uitmekaar geval,
my hart het soos was geword,
dit smelt weg in my.
16 Ek is so min werd soos ‘n potskerf,
my tong kleef aan my verhemelte,
U laat lê my asof ek dood is.
17 Soos honde omsingel hulle my,
die bende misdadigers sak op my toe,
hulle bind my hande en voete vas.
18 Al wat been in my is, kan ek tel;
hulle kyk na my met leedvermaak.
19 Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel.
20 En U, Here – moet tog nie so ver bly nie,
Bron van my krag, help my tog gou!
2 My God, my God, waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
3 My God, ek roep bedags en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4 U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!
Amen